Thursday, September 3, 2009

DIE HERKOMS VAN WYNDRUIF CULTIVARS

Prof. CJ Orffer & CP Visser
Prof. CJ Orffer was Professor in Wingerkunde aan die Universiteit van Stellenbosch van 1963 tot 1986. Hy is oorlede in Maart 2008.

Gedurende 1958 -1964 het Prof. Orffer talle wyndruifkruisings gemaak en cultivar status is aan ses daarvan verleen, nl Chenel, Weldra, Roobernet, Therona, Grachen en Nouvelle. Hy het ook talle onderstok kruisings gemaak waarvan die bekendste US 2-1 en US 8-7 is.

Kort voor sy dood het Prof. Orffer Vititec versoek om die ouers van sommige van die kruisings na te gaan aangesien hy ‘n vermoede gehad het dat van die ouers nie korrek aangedui is nie. Hierdie artikel is baseer op ’n skrywe wat Prof. Orffer in Februarie 2008 aan Vititec gerig het nadat hy die uitslae van die DNA ouer analise ontvang het.

Wyndruifcultivars word vegetatief voortgeplant ten einde te verseker dat unieke eienskappe van ‘n cultivar behoue bly. Nuwe cultivars kan slegs deur seksuele reproduksie geskep word, hetsy deur spontane of doelbewuste kruisings.

Met die vrystelling van nuwe cultivars ontstaan daar dikwels twyfel oor die ouers van die cultivar. Tot redelik onlangs is die verwantskap tussen cultivars hoofsaaklik afgelei van blaar morfologie en die oorsprong van druifcultivars het tot heelwat spekulasie aanleiding gegee.
Min nuut geteelde wyndruifcultivars kon verbeter op die sogenaamde edelcultivars soos onder andere Chenin blanc, Sauvignon blanc, Chardonnay, Pinot noir, Cabernet Sauvignon en Shiraz. ‘n Uitsondering was Dr Muller van Thurgau, Switzerland se Riesling x Sylvaner kruising wat in Duitsland die aanplantings van Riesling in ‘n stadium oortref het. Sekere navorsers het dit later betwyfel omdat besonderhede feitlik net met Riesling ooreengestem het en nie met Sylvaner nie. Onlangse DNA analise het egter getoon dat die ouers Riesling en Madeleine Royale is.

Die gebruik van PKR (Polimerasekettingreaksie) en mikro-satelliet merkers het druifcultivar identifikasie en ouer-analise gerevolusioniseer. Bowers en Meredith (1997) het daarin geslaag om die ouers van die klassieke Bordeaux cultivar, Cabernet Sauvignon, te identifiseer.
Daar is bevind dat Cabernet Sauvignon die nageslag is van twee ander Bordeaux cultivars, naamlik Cabernet franc en Sauvignon blanc. Bowers et al (1999) het ook bevind dat Chardonnay en Gamay Noir, sowel as 14 addisionele Franse wyndruifcultivars, die nageslag is van die beroemde Boergondiese cultivar Pinot noir en die feitlik onbekende Gouais Blanc.

Die outeurs het ook getoon dat die beroemde Rhône vallei cultivar, Shiraz, die nageslag is van Dureza van Ardéche en Mondeuse Blanche van Savoy in Suid-oos Frankryk. Dit weerlê die vroeëre beweringe dat Shiraz van midde-oostelike oorsprong is.

Die ouers van baie cultivars sal waarskynlik nooit bepaal kan word nie aangesien die ouers waarskynlik nie meer bestaan nie. Pinot noir byvoorbeeld word beskou as ‘n baie ou cultivar en kon reeds in die eerste eeu bestaan het. Columella beskryf ‘n cultivar in De Re Rustica wat moontlik Pinot noir kon wees (Viala and Vermorel, 1901). Die naam Pinot is vir die eerste maal in die 14de eeu opgeteken. Tot op datum is nog geen ouers vir hierdie ekonomies belangrike cultivar gevind nie.

In Suid-Afrika was die kennis insake die genetika van die druifstok in die verlede baie beperk. By kruisings en hul ouers is veral aandag gegee aan die besonderhede van blare, trosse en wyn. So is by Pinotage vrae gestel oor die geurvolle donker gekleurde wyne, terwyl geeneen van die ouers, naamlik Cinsaut en Pinot noir oor sulke eienskappe beskik nie. Die ouers van Pinotage is in 2007 wel bevestig met PKR analise deur ENTAV(Etablissement National Technique pour l'Amélioration de la Viticulture), Frankryk.

Die plaaslik suksesvolle kruisings, Pinotage, Chenel, Weldra, Therona, Nouvelle en Roobernet is ontwikkel uit kruisingswerk wat in die oopte in wingerde gedoen is en nie onder beheerde toestande in glashuise nie.














Pinotage

Nouvelle
Selfbestuiwing by Vitis vinifera kon geredelik plaasvind terwyl die operateur besig is met die kruisingswerk. Foute kon ook insluip by die insameling van stuifmeel, pitte en etikettering.
Die Departement Wingerd- en Wynkunde van die Universiteit Stellenbosch het nie oor addisionele spesialis personeel beskik wat uitsluitlik gemoeid was met die totstandkoming van kruisings en die evaluering daarvan nie. Kruisingswerk by die Departement Wingerd- en Wynkunde was dus ingepas met ander verpligtinge soos voor- en nagraadse studente onderrig, voorligting aan produsente en wynmakers, navorsings, toesig oor proefplase by byvoorbeeld Elsenburg, Welgevallen, Robertson, Lutzville asook wingerde by Groot Constantia, KWV - SELK (Stellenbosch - Elsenburg Landboukollege) proewe in distrikte van Constantia, Stellenbosch, Paarl, Robertson, Worcester, Montague, Barrydale, Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes en Tulbagh.

Die oogmerk van die Die Departement Wingerd- en Wynkunde was nie genetiese navorsing nie, maar om jaarliks redelike groot populasies van kruising saailinge te vestig met die mikpunt van ongeveer 1000 per jaar. Dit is op kleinskaal deur Prof Orffer in 1949 begin met ‘n twee jaar onderbrekening tydens doktorale studie aan die Universiteit van Kalifornië. Die werk is voorgesit tot sy aftrede aan die einde van 1986.
Finale keuring van saailinge was op streng kriteria gebaseer. So is veral gelet op Botritis- en suurvrot toleransie. Lae opbrengs en swak groeikrag is glad nie geduld nie. Sonbrand toleransie en bestandheid teen wind was ook belangrike aspekte. Wynkwaliteit moes aanvaarbaar wees vir die lae tot medium prysklas.

Uit bogenoemde kriteria moes Pinotage na regte uitgeskakel gewees het uit ‘n verbouings oogpunt. Op Welgevallen is in jare met sterk suidoos uiters lae opbrengste verkry weens die afwaai van lote.

Soos by Pinotage was daar ook twyfel oor die ouers van Therona, Nouvelle en Roobernet. Therona is ‘n kruising van Cape Riesling (Crouchen blanc) en Chenin blanc maar dit is nog nie bevestig met PKR nie. By Nouvelle is die bladsteelsinus betreklik oop wat moontlik op Sémillon kan dui. Aan die ander kant is daar blaar en korrel besonderhede wat wel op Ugni blanc dui. Aanvanklik is gereken dat die ouers van Nouvelle Sémillon en Cape Riesling is. Met PKR is in 2007 deur ENTAV, Frankryk bevestig dat dit wel Cape Riesling en Ugni blanc is.

Roobernet








Pontak


Die ouers van Roobernet is aanvanklik aangedui as Cabernet Sauvignon en Pontak. Daar was egter aanduidings dat Pontak moontlik nie een van die ouers is nie. Weens die gewildheid van die ou Constantia wyne is baie kruisings met Cabernet Sauvignon en Pontak oor etlike jare gemaak. Weens die laer wyngehalte van Alicante Bouschet is dit nooit as kruisingouer gebruik nie.

Na 20 jaar van waarneming het Roobernet die beste van alle gekleurde sap kruisings uitgestaan met produksie en groeikrag wat dikwels die van Cabernet Sauvignon oortref het. Morfologies wys die blare van Roobernet bitter min van Alicante Bouschet en word dit dikwels met Cabernet Sauvignon verwar. Die groot trosse en hoë produksie dui egter op Alicante Bouschet. Die ouers van Roobernet is in 2007 deur ENTAV bevestig as Cabernet Sauvignon en Alicante Bouschet. Stuifmeel van Alicante Bouschet moes dus skelm ingesluip het.

Die beheerde maak van kruisings is redelik nuut. Aanduidings is dat Bouschet in Frankryk die eerste kruisings gedoen het met Aramon en Teinturer (Pontak).
Die ontwikkeling van die klassieke edelcultivars soos in gebruik vandag uit oer oue wilde cultivars is werklik merkwaardig, gesien in die lig van die redelik klein aantal suksesvolle kruisings wat tot op hede kunsmatig deur die mens geskep is.

Die veredeling van die druif is waarskynlik gekoppel aan die ontdekking van wyn. Gedurende die verdelingsproses het die biologie van die druif merkwaardige veranderinge ondergaan om hoër suikergehalte te lewer vir beter gisting en hoër en meer konstante produksie. Deurslaggewend vir die proses was die verandering in korrel- en trosgroottes en die verandering van wilde, eenslagtige plante tot tweeslagtige, verboude plante. Dit is onbekend of die veranderinge oor ‘n lang tydperk deur seksuele kruisings en natuurlike of menslike seleksies of vinnig deur mutasies, seleksies en vegetatiewe voortplanting plaasgevind het (This et al., 2006).

Literatuur

Bowers J.E., Meredith, C.E. (1997):The parentage of a classic wine grape, Cabernet Sauvignon. Nature Genetics. 16: 84 – 87.

Bowers, J.E., Boursiquot, J. M., This, P., Chu, K., Johansson, H., Meredith, C. (1999): Historical Genetics: The Parentage of Chardonnay, Gamay, and Other Wine Grapes of Northeastern France. Science 3 : 285(5433): 1562 – 1565.

This, P., Lacombe, T., Thomas, M. R., (2006): Historical origins and genetic diversity of wine grapes. Trends in Genetics. 22: 511 - 519.

Viala, P. ,V. Vermorel. 1901-1910. Ampélographie, Volumes I — VII, Masson, Paris

1103 PAULSEN














Oorsprong: Kruising tussen V berlandieri var Resseguier no 2 en V rupestris var du Lot deur Paulsen in 1892.
Spruitpunt: Webbig-behaard en rosig-gekleurd; lste internodium webbig-donsig.
Jong blare: Bronsagtig-gekleurd en naak. Volwasse blare: Klein, niervormig, heel, effe gebobbeld, donkergroen, tandpunte is konkaaf, blad is naak bo en onder, nerwe is pers en donsigbehaard, bladsteelsinus oop U-vormig met bladsteelsinusweefsel meestal afwesig.
Blomme: Manlik, steriel, dra geen druiwe nie.
Somerlote: Webbig-behaard apikaal, geriffel, persrooi met pers nodiums effe donsig.
Winterlote: Geriffel, donkerbruin, effe donsig by nodiums, lang internodiums, klein gepunte oë.
Verbouing: Hierdie onderstok beskik oor ‘n besondere groeikrag en aanpasbaarheid op swaar, klei leem gronde met ‘n nat ondergrond. Sy bestandheid teen brak is redelik terwyl kalkbestandheid goed vergelyk met 99 Richter en 110 Richter. Bestandheid teen filloksera is goed maar slegs matig teen aalwurms. Ongelukkig is hierdie onderstok net so gevoelig vir Phytophthora cinnamomi soos 99 Richter. Dit word hoofsaaklik vir droëland-toestande aanbeveel. Beworteling en vatpersentasie tydens enting is goed.

Ruggeri 140








140 RUGGERI

E. Archer

Oorsprong: Kruising tussen V berlandieri var Rességuier no 2 en V rupestris var du Lot deur Ruggeri in die twintigste eeu.

Spruitpunt: Webbig-behaard met rosig-gekleurde rande.

Jong blare: Blink, liggroen, naak, rosa-gekleurde rande.

Volwasse blare: Klein, niervormig, heel, leeragtig dik, geplooi, bokant naak, onder bykans naak met nerwe donsig-behaard, bladsteelaanhegting is rooi terwyl sinus oop liervormig is; tande is medium groot en konveks; bladstele pers en naak; basale blare meestal duidelik gelob soos by 420 A.

Blomme: Manlik, steriel, dra geen druiwe nie.

Somerlote: Geriffel, pers, geringe donsigheid teenwoordig.

Winterlote: Geriffel, donker rooibruin, naak met donsigheid by nodes, lang internodes, klein gepunte oë.

Verbouing: ‘n Sterk-groeiende, geharde onderstok wat met sukses in die droë, kalkryke gronde van Sicilië, Tunisië, Algerie en Marokko, gebruik word. Dit het ‘n goeie bestandheid teen kalk en filloksera terwyl dit redelik gevoelig vir aalwurmbesmetting is. Beworteling en vatpersentasie met bankenting is nie so goed soos by 99 Richter nie, maar grondenting lewer goeie resultate.