Monday, January 18, 2010

101-14 Mgt

E. Archer

Oorsprong: Kruising tussen V. riparia en V. rupestris deur professor Millardet in samewerking met die markies de Grasset (Millardet = M; de Grasset = gt: Mgt).

Spruitpunt: Geslote; bootvormig; bleek groen; steunblare lank en kleurloos

Jong blare: Lig tot gelerig groen; effe koperkleurig; geplooi; effe donserig behaard op die nerwe aan die onderkant van die blaar.

Volwasse blare: Wigvormig; riparia-agtig; neig na drie-lobbig; terminale tande van die hoofnerwe is lank; oppervlakte effe geplooi tot gegolf; borselhare aan die onderkant op die hoofnerwe; liggroenerig gekleur; bladsteelsinus baie oop U-vormig; bladstele ligrooi gekleur en naak tot effe borselharig.

Blomme: Morfologies hermafrodiet, fisiologies vroulik; gee oorsprong aan klein, swart trossies met klein ronde korrels; pitte het byna geen nekkies nie.

Somerlote: Fyn geriffeld; naak; persrooi; kort internodiums; relatiewe vroeë blaarval.

Winterlote: Fyn geriffeld; fyn borselhare op nodiums; ligvaal tot donker vaal met opvallend lig strooikleurige vaatbondelriwwe; nodiums nie baie prominent; klein gepunte ogies.

Verbouing: Medium groeiende onderstok met n relatief kort vegetatiewe periode wat gebruik kan word wanneer vroeër rypwording verlang word; goed aangepas op vlakkerige dupleksgronde; lae bestandheid teen aktiewe kalk (9% vry kalk); baie goed bestand teen filloksera; goed bestand teen knopwortelaalwurm; vatbaar vir Phytophthora wortelverrotting; goed tot baie goed natbestand redelik goed droogtebestand; goed brakbestand; goeie wortelvormingsvermoë; goeie affiniteit word met hittebehandelde materiaal verkry; matige groeikrag word in die bo-cultivars geinduseer.

No comments:

Post a Comment